BeKENDSTELLING

Agtergrond

Die Gereformeerde Kerk Pretoria-Magalieskruin is op 28 Mei 1977 van die GK Pretoria-Annlin afgestig. Saam met agt ander naburige gemeentes vorm dit die Klassis Trans-Magalies, wat op sy beurt weer saam met drie ander klassisse die Streeksinode Pretoria vorm. Hierdie streeksinode saam met ses ander, vorm die Algemene Sinode van Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

 

Die eerste predikant, ds. E. J. Smit is op 27 Augustus 1977 bevestig. Eredienste is aanvanklik in die saal van Laerskool Stephanus Roos gehou tot konstruksie van die huidige kerkgebou voltooi is en dit op 14 Februarie 1981 in gebruik geneem is. Die gemeente het sodanig uitgebrei dat tot meerdere bediening oorgegaan is.

 

Ds. L. D. Aucamp het as tweede leraar van Januarie 1985 tot Desember 1988 in die gemeente gewerk. Hy is opgevolg deur dr. P. H. Heystek wat met die afstigting van die GK Montanapoort op 30 Mei 1999 as leraar van die afgestigte gemeente beroep is. Sedertdien het ds. Smit tot sy emeritering op 2 November 2003 weer alleen die gemeente bedien. Ds. S. D. Snyman is op 17 Januarie 2004 as die volgende predikant bevestig en het op 31 Maart 2028 geëmeriteer. Hierna het ds. G. J. Erasmus as leraar van die gemeente gedien vanaf 3 Februarie 2018 tot Oktober 2021. Ds. C. Aucamp het na sy emeritering in 2021 as hulppredikant in die gemeente gewerk tot daar weer ‘n voltydse leraar beroep kon word.

 

Die gemeente se huidige predikant is ds. M. J. Erasmus wat op 29 Oktober 2022 as leraar bevestig is.

 

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA)

Die GKSA het haar ontstaan uit die Protestants-gereformeerde stroom van die Christendom – sterk beïnvloed deur die kerkhervormingswerk van Calvyn via Nederland – en het in Suid-Afrika in 1859 uit die destydse Nederduits Hervormde Kerk en Nederduits Gereformeerde kerk ontstaan, op die oppervlakte oor die afdwinging van die Gesange, maar dieperliggend oor die handhawing van die suiwer Bybelse leer en kerkregering.

 

Ons is dus histories deel van kerke wat kompromisloos die Woord van God wil handhaaf en die koningskap van Christus in die praktyk tot sy reg wil laat kom. Besoek gerus die GKSA se webblad vir meer inligting.

Belangrike geloofsoortuigings en -praktyke

DOEL VAN DIE KERK

Die hoofdoel van die bestaan van elke Christelike gemeente is om die drie-enige God, wat Homself in die Bybel aan ons bekend gemaak het, te eer.

 

DIE WOORD VAN GOD 

Die Bybel is vir ons die hoogste en finale gesagsbron. Wat daarin staan, is die waarheid en moet deur ons geglo word soos dit aangebied word en moet deur ons gedoen word.

 

DIE BELYDENISSKRIFTE

Die verdraaiing van die Woord was een van die redes waarom daar in die loop van die kerkgeskiedenis belydenisskifte ontstaan het. Die belydenisskrifte moes dien as teëfoeter vir die dwaalleer. In die belydenisskrifte het die kerke die Bybelse waarhede opsommend gestel en verdedig. Die belydenisskrifte wat ons kerke amptelik aanvaar as betroubare weergawes van wat in die Bybel staan, is die volgende: die Apostoliese Geloofsbelydenis (die Twaalf Artikels), die Geloofsbelydenis van Nicea, die Geloofsbelydenis van Athanasius, die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. Ons het formele kerklike bande met gereformeerde kerke in baie ander lande en op feitlik alle ander kontinente wat dieselfde belydenis as ons onderskryf en handhaaf.

 

VERLOSSING

Dit is by ons ‘n sterk en diepgewortelde oortuiging dat ons verlossing van begin tot einde die genade van die Here is. Dit berus eenhonderd persent op dit wat die Here Jesus Christus vir ons gedoen het, veral in sy kruisdood en opstanding. Selfs ons geloof in Hom, wat onmisbaar is vir ons redding, is deur die Heilige Gees in ons bewerk en dus ‘n gawe van God. Ons aanvaar dan ook die Bybelse leer van die uitverkiesing, wat aan God al die eer vir ons saligheid gee.

 

EREDIENSTE

Ons beskou eredienste as besondere ontmoetings tussen die Here en sy gemeente. In hierdie samekomste hoort dus net wat die Here in sy Woord as deel van ons aanbidding van Hom wil hê. Omdat ons byvoorbeeld in ons sang net die beste wil offer, sing ons in hierdie samekomste net liedere wat direk uit die Bybel uit berym is (Psalms en ander Skrifberymings). Ook die sakramente (die doop en die nagmaal) word sober en op die Bybelse manie bedien.

 

HERDERLIKE BEDIENING

Ons glo dat ons as gelowiges olgens die Woord vir mekaar verantwoordelik is, en dat die ouderlinge as herders en opsieners ‘n besondere taak in dié verband van die Here gekry het. Om hierdie verantwoordelikheid na te kom, doen die ouderlinge o.a. gereeld huisbesoek by lidmate. By die huisbesoeke word elkeen na behoefte geleer, getroos en aangespoor. Waar lidmate nie volgens die Woord glo of lewe nie, word hulle met Bybelse liefde vermaan en getug.

 

LIDMATE SE PLEK

Omdat elke gelowige ‘n lid van die liggaam van Christus is, beywer ons ons daarvoor dat lidmate met die gawes en vermoëns wat hulle ontvang het, een of meer vorms van dienswerk in en saam met die gemeente moet doen. Almal moet ook in elke faset van hulle lewe van elke dag volgens die Bybelse beginsels leef, en so die koningskap van die Here Jesus Christus oor die ganse lewe bevorder en getuies vir Hom wees.